
Voordat hierdie skool se kinders weer gaan swem, sal hulle definitief WaterWise se PLAN onthou!
Kinders wat wil leer, leer gewoonlik vinniger en onthou ook langer! Selfs op die foto’s
wat aangeheg is, kan ons die leergierigheid en positiewe gesindheid van die
kinders sien.
Ek was ongeveer 2 jaar gelede by dieselfde skool; van die groter kinders kon die WaterWise-boodskap baie goed onthou. (Ek moes my ou wit handskoen met rooi letters, P L A N uit my sak haal, want hulle wou weet of ek dit steeds gebruik! Intussen het ek die handskoen vervang met pragtige duidelike rooi letters, soos op die foto’s aangedui.)

Stefan Struis het gou-gou geleer hoe om vinnig en korrekte borskaskompressies toe te pas.
Alhoewel die Koue Bokkeveld, die gebied waar die kinders grootword, vreeslik koud word in die winter, word dit ontsettend warm in die somer. Die kinders se ouers werk hoofsaaklik op plase gedurende seisoentyd, dus gaan swem kinders soms sonder volwasse toesig. (Kinders erken dit nie altyd in die teenwoordigheid van die onderwysers en ouers nie, want hulle word verbied om in damme te swem – veral sonder volwasse toesig, en omdat ouers weet dat dit gevaarlik is.)
Die WaterWise-werkswinkels help die kinders om voorsorgmaatreels te tref. Skielik besef die kinders: “Wat gaan ons doen as een van ons maatjies verdrink?” “Hoe gaan ons optree en vir wie sal ons bel?”

Maak seker jy ken die ambulans se telefoonnommer.
Ek glo dat elke kind, na afloop van die WaterWise-werkswinkel, definitief beter toegerus is, en nuwe lewensvaardighede aangeleer het.
Veels geluk aan die skoolhoof en sy personeel met netjiese, goed gedissiplineerde kinders!

Jy kan self iemand se lewe red met 'n lee coke bottel en tou!













